Jou naaste?
LUKAS 10:27, 29-37 NLV
LUKAS 10:27, 29-37 NLV
Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’” Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?” En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort. “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan. “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan. “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg. Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’ “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra. Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.”
Wie is jou naaste?
Enige iemand wat Jesus op jou pad geplaas het. Dit kan jou maats in die klas wees. Jou buurman. Die man wat bedel op die straathoek.
Hoe moet jy teenoor jou naaste optree?
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jy moet omgee vir ander mense. Jy moet medelye betoon aan iemand in nood. Jy moet jou naaste help waar jy kan.